Friday, July 11, 2008

Aanvaarding

Nadat ek gister weer met Lili gepraat het en dit my vreeslik ontstel het om haar te hoor se dat sy nie vir die vakansie wanneer ek daar is weer soos laas jaar na my ouers toe wil gaan sodat ons almal daar kan bly vir die vakansie nie, het ek laat gisteraand gaan stap en dit was donker teen die tyd dat Andy my gebel het en vir my gevra het waar ek is omdat hy alreeds by die huis was.

Die afgelope ruk het ek al hoe meer depressief begin raak en dit het weer die punt bereik waar ek nie eers meer in die oggend lus voel om op te staan nie. Wat dit nog erger maak is dat ek alles op Andy uithaal en boonop daarop uit gaan om met hom moeilikheid te soek omdat ek na 'n manier soek om van als wat so opkrop binne in my ontslae te raak. Alhoewel hy soms ook maar ingee en kwaad word vat dit nie lank voordat hy na my toe kom en vir my 'n drukkie gee en my weer moed inpraat nie. Hy is wonderlik en ek weet werklik nie wat ek sonder hom sou gedoen het nie.

Ek het vir Lili gese dat ons in daardie geval dan maar net 'n dag of twee in Bloemfontein sal oorbly sodat sy my darem kan sien, maar diep binne my maak dit so seer om net te dink aan haar "uh-uh" toe ek vir haar vra of sy by my ouers wil gaan kuier.

Dit gaan nou al so lank aan en dis nie haar skuld dat sy van my vervreem is nie, so ek kan haar nie blameer nie. Dolf het sy sin gekry, maar dis nou nog vir my moeilik om in te sien hoe iemand so wreed kan wees.

Hierdie hele situasie met Lili het my die laaste tyd nogal baie laat dink aan die 5 fases van aanvaarding dat jy besig is om dood te gaan nadat ek nou die aand The Bucket List gekyk het. Die 5 fases is natuurlik:

  • Denial
  • Anger
  • Bargaining
  • Depression
  • Acceptance
Dis natuurlik op baie gevalle van toepassing en ek weet ook nou dat ek deur meeste hiervan is, behalwe aanvaarding. Ek het altyd gese dat ek nooit sal ophou baklei nie, maar dalk is dit ook tyd dat ek begin aanvaar dat ek niks meer aan die situuasie kan doen nie en dat slegs tyd sal leer.

Miskien is dit tyd dat ek begin fokus op die dinge waaraan ek wel iets kan doen, soos Xaynee.

My gedagtes en my lewe het ontaard in iets wat lyk soos 'n bondel wasgoed in 'n wasmasjien. Ek kon nie meer uitmaak wat wat is nie en een ding loop na 'n ander. Als is net 'n gemors en ek kon nie meer fokus of konsentreer op dit wat werklik saak maak nie.

Dis tyd dat dit verander en dit gaan vandag gebeur.

Ek het besluit om meer aandag te gee aan die hele kwessie wat Xaynee betref, wat natuurlik beteken dat ek weer die hof gaan kontak rakende 'n nuwe hofdatum en ek gaan ook die Departement van Binnelandse Sake email en ook kontak rakende haar geboorte. Hopelik kry ek vir 'n slag iets gedoen want ek is al so moeg vir al die pogings wat tot niks lei nie dat ek al wil skree.

Ek gaan ook begin werk aan punte waarop ek kan fokus wat Xaynee betref want niks gaan my weghou van die dinge want ek nog oorhet in my lewe nie en dit sluit op hierdie stadium net Andy en Xaynee in. Dit beteken nie dat ek vir Lili afgeskryf het nie. Dit maak bitter seer om net aan haar te dink en net die gedagte aan haar pragtige glimlag bring trane in my oe, maar ek kan nie meer my hele lewe van koers af hou ter wille van haar nie. Sy sal altyd 'n plek he by ons en ek sal seker maak dat sy dit weet wanneer ek vir haar gaan hallo se, maar dis tyd om te aanvaar en laat gaan, al is dit nie maklik nie.

3 comments:

Muriel said...

Sterkte Cheeky!! Ek kan sien jy kry op die oomblik baie swaar. Hang in there girl!!

Anonymous said...

Vasbyt, jong. Jy sien hulle binnekort.

EDOWAY YUNUS BLOK NEWS OF WEST PAPUA said...

hiiiiiiiiiii
cheeky we have hi... from west papua for you
your web is fantastices